Om Noord te vind

Read the English version

My pa het my geleer dat jy altyd Noord moet vind wanneer jy in ‘n nuwe plek aankom, want dan sal jy nooit verdwaal nie. Hy het al twee en twintig jaar gelede reeds sy Weg gevind en het nie meer die sterre nodig vir rigting nie.

Ek, aan die anderkant, soek nog steeds my Noord wanneer ons in ‘n nuwe dorp of stad aankom. Hier is dit nie juis te uitdagend nie, maar ek moet erken dat ek, toe ons in die buiteland gebly of daarheen gereis het, dit nie altyd kon regkry nie.

Ons het vir ‘n tyd lank in Egipte gebly en na die Midde-Ooste en Europa gereis en wanneer ek saans na die hemel opgekyk het en nie die Suiderkruis in die Noordelike Halfrond kon sien nie, het ek ‘n bietjie verlore gevoel. My innerlike kompas wou net nooit sy Noord vind nie. Alles het vir my agterstevoor en onderstebo gevoel. En dit het ook nie gehelp dat die Nyl van die Bybel in die ‘verkeerde’ rigting gevloei het nie.

In Egipte het ek maar vir Oos en Wes begin soek. Ek en my man, Deon, het op die tweede dag in Kaïro verdwaal toe ons gaan stap het. Gelukkig kon ons later die sakkende son tussen die hoë geboue sien en het toe in daai rigting gestap, want ons het geweet die Nyl loop daar. In Kaïro was die Nyl my Noord – al was dit gewoonlik Oos of Wes vanwaar ons gekom of waarheen ons gegaan het.

Vanaand toe ons seun, Michael, na sy huisie toe stap, klop hy aan die venster en sê ek moet die sterre kom kyk. En daar hang die melkweg in die beurtkragdonkerte oor die dorp, met die Suiderkruis wat my herinner – ons is tuis.

© 2022 Fielies De Kock

Ma. Vrou. Skrywer. Bly in Hermanus in die Overberg, Suid-Afrika, met ‘n man, volwasse seun en twee honde. Skrywer van ‘n kinderboek, Yeovangya’s Quest, en kortstories en mede-skrywer van 125 Creative Writing Prompts for Petrolheads saam met einste volwasse seun wat vir ‘n webblad oor karre skryf.

Leer jou kind om self ‘n toespraak te skryf – stap vir stap

Dis weer daardie tyd van die kwartaal wanneer ma’s naarstigtelik Googleloer opsoek na raad met hulle kinders se toesprake. In ‘n vorige bloginskrywing het ek redelik gal gebraak oor Graad 1’tjies wat nog nie kan lees of skryf nie, maar van wie verwag word om ‘n ATKV-toespraak te resiteer.

Dit lyk darem asof die Department van Onderwys of dalk die skole self herbesin het, want die afgelope paar jaar (sedert Covid met ons is) het die kinders in ons familie se toespraakformaat verander. Die jonger grade kry net ‘n onderwerp waaroor hulle ‘n minuut hoef te praat – wat ‘n baie meer sinvolle oefening is, want hulle kan baie van die werk self doen!

In hierdie skrywe gaan ek net op die kleiner grade fokus, want as hulle vroeg-vroeg toesprake (wat eintlik net praatjies is) onder die knie kry, sal hulle dit in die later grade met gemak self kan doen. Hier is stap-vir-stap raad vir pa’s en ma’s om sommer vinnig met toespraakmaak klaar te speel.

Graad 1 en 2

Gewoonlik stuur die onderwyser/es ‘n nota wat met die tema/s, lengte en moets en moenies vir elke toespraak aandui. Volg dié stappe om jou kind beide sy Afrikaanse en Engelse praatjies te leer doen:

Versamel informasie

  • Lees vir jou kind die riglyne deur.
  • Laat hom een van die temas kies – verkieslik een waaroor hy die meeste weet.
  • Laat hom alles wat hy graag oor die onderwerp wil sê, vir jou opnoem.
  • Luister aandagtig en vra hom vrae oor die onderwerp om sy denke te stimuleer.
  • Indien nodig, Googleloer maar vir ‘n bietjie meer informasie as dit oor ‘n onderwerp is waar feite genoem moet word.
  • Skryf elke punt neer.
  • Skryf/tik nou ‘n elke punt in ‘n kort sin oor.
  • Rangskik die sinne sodat dit ‘n goeie volgorde het.
  • Maak seker die eerste sin trek aandag. Gebruik ‘n uitroep of humor.
  • Help met ‘n bietjie humor in die toespraak.
  • Skryf ‘n definitiewe laaste sin van een van die punte wat hy genoem het vir ‘n goeie einde.
  • Lees die toespraak ‘n paar keer deur om te sien of dit ‘ritme’ het, sodat jou kind dit maklik kan weergee.
  • Indien dit moeilik lees, maak veranderinge.
  • Redigeer die stuk sodat dit foutloos is.
  • Merk belangrike woorde in BOLD en/of gebruik kleur.

NOTA: 200 woorde lewer ongeveer ‘n 1,5 minuut toespraak, afhangende van die tempo.

Neem die toespraak op

  • Gebruik die stemopnemer op jou foon en lees die toespraak voor. Sit stemtoonverandering in waar nodig, maar moet dit nie oordramatiseer, sodat jou kind soos ‘n papegaai klink nie.
  • Speel dit oor en oor vir jou kind totdat hy die woorde uit sy kop ken.

Maak hulpkaarte

  • Gebruik die getikte toespraak, vergroot die font, voeg spasies tussen natuurlike paragrawe in en knip die geskrewe toespraak in ‘n gepaste grootte vir die klein handjies.
  • Nommer elke kaartjie. (Daar behoort tussen vyf en sewe kaartjies te wees.)

Oefen die toespraak

  • Help jou kind om die toespraak op te sê met behulp van die kaartjie. Maak seker die nommers is groter as die sinne, sodat hy die volgorde maklik kan volg.
  • Leer hom om oogkontak te maak terwyl hy praat en die kaartjies slegs ondersteunend te gebruik.
  • Gebruik ten minste een hulpmiddel. Dit kan ‘n foto of ‘n speelding wees wat by die tema pas. Wys hom presies hoe en wanneer hy die hulpmiddel moet gebruik.

As julle al hierdie stappe volg, behoort hy goeie punte te kry – dalk self “half tien” soos ons Graadeentjie toe hy nege-en-‘n-half uit tien gekry het!

Graad 3 en 4

  • Noudat jou kind gemaklik is met sinne skryf, kan hy al ‘n groter deel van die werk self doen.
  • Volg die bogenoemde stappe, maar laat hy self sy sinne skryf.
  • Doen die tik- en redigeerwerk en help met die rangskikking van die orde.
  • Help ook met ‘n aandag-trek begin en ‘n goeie einde.
  • Neem die toespraak in die kind se stem op as hy al goed genoeg lees. (Doen dit andersins self.)
  • Laat hy die toespraak leer totdat hy dit vlot kan lewer.
  • Maak genommerde kaartjies ter ondersteuning en fokus op oogkontak en dat hy nie die hele toespraak aflees nie.
  • Gebruik hulpmiddels.

Graad 5 en hoër

  • Jou kind behoort nou langer praatjies/toesprake self te kan skryf. Vra vrae en speel duiwelsadvokaat om jou kind te leer om beredeneerd te dink.
  • Sit hand by met veilige internetsoektogte en gee raad oor struktuur en volgorde.

Hier is ‘n voorbeeld van ‘n struktuur van ‘n redenaarstoespraak.

Kliek hier vir persone wat hulp verskaf met die skryf van redenaarstoesprake vir jou ouer kinders en kry hier wenke as hy dit self skryf.

***

Voorbeeld van ‘n Afrikaanse praatjie

As my boetie bad

(voorbeeld van toespraakkaartjies)

1

Dis net sploesh-splash, sploesh-splash

wanneer my boetie bad

en dan is alles sopnat!

2

My boetie is vyf jaar oud

en ek en hy bad elke aand saam.

3

Party aande speel ons lekker

met ons bootjies in die water,

maar ander aande raak hy heeltemal laf!

4

Dan wil hy in die bad duik of lê

en dan vat hy soveel plek

dat ek met my boud

op die prop moet sit! Dis eina!

5

Sommige aande stoei ons in die bad

en dan sien jy net water spat!

Ek klim gewoonlik maar vroeër uit

sodat hy lekker alleen verder kan speel.

6

Hy maak dan sy hele kop vol skuim

en blaas borrels daarmee!

7

Dis nie altyd lekker om saam met my kleinboetie

in die bad te wees nie,

maar dis darem lekker om te sien

hy geniet sy badtyd terdeë!

***

Voorbeeld van ‘n Engelse praatjie

My Superpower

(Example of speech cards)

1

Superheroes are very cool!

Superman is strong and can fly.

Batman is rich and clever.

Spiderman can swing between buildings.

And Ant-Man is small enough to get in anywhere.

2

Most superheroes have only one or two superpowers.

They save people’s lives and do brave deeds.

I like watching movies about superheroes

and my little brother dresses up as Spiderman every day!

3

I love superheroes and I like what they do,

because they always beat the bad guys.

But the thing with superheroes is

that they are only imaginary.

4

I sometimes dream about having superpowers.

I would love to be strong

or to fly

or to shrink myself

or make myself big,

but I can’t,

because I am a real person

and not living in a movie or a book.

5

But we can have superpowers

and we are better than superheroes,

because we are real!

6

All we have to do is

find our superpowers.

7

I like to be kind

and to be helpful.

I like to comfort people when they are sad.

So, I think my superpower is to help people

and I always want to use it

to make people around me happy.

Vir ‘n meer volledige uiteensetting van toesprake vir redenaarskompetisies, lees hierdie bloginskrywing en volg hierdie wenke.

Kliek hier vir hulp met die skryf van redenaarstoesprake vir jou ouer kinders.

***

© 2021 Fielies De Kock

Vrou, ma, blogger. My kinderboek, Yeovangya’s Quest, en my en ons seun se eerste boek saam, 125 Creative Writing Prompts for Petrolheads, is op Amazon beskikbaar.

Kontakte vir hulp met toesprake

Child-Speech-Therapy-672x372

Vrywaring: Die volgende persoon/persone bied hulle dienste vir die skryf van toesprake aan. Dienste word op die eie verantwoordelikheid van die verbruiker gebruik en ek, Riëtte de Kock, (in persoon/Die Skryfklub/The Writing Club) aanvaar geen verantwoordelikheid vir die kwaliteit van toesprake en/of enige verlies van eiendom of monetêre bronne na aanleiding van die dienste gelewer deur van enige van die adverteerder/s nie. 

Jeannine Meyer

082 603 0998

ninameyer2809@gmail.com

Trudi Piekaar

082 674 5075

trudipiekaar@gmail.com

Lees gerus ook my bloginskrywings oor die skryf van toesprake en hoe om jou kind te leer self sy toesprake te skryf.

*** *** *** *** ***

Indien jy Afrikaanse (volgens die ATKV-riglyne) en/of Engelse toesprake vir SA skoolkinders skryf en jou dienste hier wil adverteer, plaas asseblief jou kontakbesonderhede in die kommentaar.

© 2021 Fielies De Kock

High Above the Clouds / Hoog bo die wolke

English version

This will be recorded as one of my most beautiful memories ever. We are on an Egypt Air flight from Amsterdam to Cairo.

Deon and I always listen to Paul Wilbur’s ‘Shema’ together on shared earphones when they play the Islamic prayers on the small screen – something that is done before every flight. Normally I switch my phone off after this, because I want to keep it charged should I need to make a call after we have landed. But today I keep listening. The time between sitting on the tarmac and take off can be a bit boring sometimes.

It is a majestic feeling when a plane jets into the air with the forceful sounds of Verdi’s ‘Nabucco’ in your ears. Outside the lush green landscape of Amsterdam is left on the ground as the plane swoops through the thick clouds to glide above them. This is one of the most beautiful pictures my eyes ever had the privilege of seeing! The cotton wool-like clouds are bundled onto each other with no earth to see down below. The music is still playing while I hear my spirit whisper in my heart: “Thanks for beautiful things, Father!” and “Thanks for all the undeserved treats. Thanks for all the places we see that I’ve never thought I would see and thanks for seeing some more than once!”

And then I heard the Halleluja choir with ‘Ode to Joy’ and Susan Boyle sings ‘Then sings my soul’, while mine sings with. I ‘halleluYAH’ on with Leonard Cohen and Delaney en Bonnie’s ‘Never Ending Song of Live’ follows passionately. Then André Rieu’s orchestra played “Auld Lang Syne’ and I long to be with my family and I wonder what they are all doing on this spring Sunday afternoon in South Africa. While I’m still wondering Neil Diamond makes a ‘Beautiful Noise’ and on the note of ‘Hava Nagila’ I have to close the plane window a bit, because the son reflects quite sharply from the Alps down below.

My finger chooses Josh Grobin’s ‘Jesu, Joy of Man’s Desire’ almost automatically, because one always tends to feel closer to heaven so high up in the air.

In the aisle seat Michael sat cramped-in and reads his new book and in the middle, next to me Deon rests on his forehead against the front seat, trying to sleep. I trust on his cell phone today should we need to make calls on the other side. For now my phone’s battery will help Josh fly high above the clouds over Europe.

Afrikaans

Hierdie sal in my onthou opgeteken word as een van die mooiste memoeries ooit! Ons is op ‘n Egypt Air-vlug oppad terug van Amsterdam na Kaïro.

Ek en Deon luister altyd na die ‘Shema’ van Paul Wilbur oor gedeelde oorfone as hulle die Islamitese gebede op die klein skerm wys – iets wat voor elke vlug gedoen word. Normaalweg skakel ek my foon hierna af, omdat ek nie die battery wil pap maak nie vir ingeval ek dit nodig sou kry nadat ons geland het. Maar vandag hou ek aan luister. Die tyd tussen in die vliegtuig sit op die aanloopbaan en opstyg kan nogal vervelig wees.

Dis ‘n majestieuse gevoel as ‘n straler opstyg met Verdi se ‘Nabucco’ se klanke in jou ore. Buite het ons die lowergroen landskap van Amsterdam op die grond gelos en die vliegtuig het die dik wolke ingeswiep – na waar ons bokant hulle sweef. Dit is een van die mooiste, mooiste prentjies wat my oë ooit die voorreg gehad het om te sien! Die wolke is soos watte-berge op mekaar gestapel, met niks aarde onder ons te sien nie. Die musiek hou aan speel, terwyl ek my gees in my hart hoor fluister: “Dankie vir mooi dinge, Vader!” en “Dankie vir al die onverdiende voorregte. Dankie dat ons plekke kan sien wat ek nooit gedink het moontlik is nie en party wéér kan sien.”

En toe hoor ek die Halleluja-koor en ‘Ode to Joy’ en Susan Boyle sing ‘Then sings my soul’, terwyl myne saam sing. En ek ‘halleluYAH’ verder saam met Leonard Cohen. En Delaney en Bonnie se ‘Never Ending Song of Live kom tussen-in en toe ek weer hoor, speel André Rieu se orkes “Auld Lang Syne’ en ek verlang na my familie en wonder wat doen hulle op dié lente Sondagmiddag in Suid-Afrika. Terwyl ek nog wonder, maak Neil Diamond ‘n ‘Beautiful Noise’ en op die nota van ‘Hava Nagila’ moet ek eers die vliegtuigvenstertjie ‘n bietjie toetrek, want die sonnetjie skyn nogal skerp so hoop bo in die lug waar dit van die Alpe af reflekteer. My vinger kies so half outomaties Josh Grobin se ‘Jesu, Joy of Man’s Desire’, want ‘n mens voel mos maar altyd ‘n bietjie nader aan die hemel so hoog bo in die lug.

In die gangsitplek sit Michael ingeprop en lees sy nuwe boek en langs my in die middel, sit-lê Deon op sy voorkop teen die sitplek voor hom en probeer slaap. Ek vertrou maar vandag op sy selfoon, sou daar ‘n ‘vir ingeval’ anderkant die landing wees. Vir nou help my foon se battery eers vir Josh om hoog te vlieg bo die wolke bokant Europa.

© 2016 – I, Fielies (Riëtte) De Kock tries hard to be a Proverbs 31-woman – excellentest wife, finest mom, greatest lover and successful ‘wordpreneur’ all at the same time. I share my current living space in Cairo, Egypt, with my husband, young adult son, the building’s ginger cat, her friend and two kittens (so far) – and the space in my head with way too many ideas and multitudes of story characters to function normally .

Om die lewe te celebrate

eilat

Gewoonlik kom families bymekaar om troue of begrafnis te hou en net soms in hierdie gelooflose samelewing nog as iemand (klein of groot) gedoop word. By begrafnisse huil almal saam oor die verbygaande aard van ons almal se bestaan en ook oor die familielid in die kis wat eers weer in die lewe hierna te siene sal wees. Dan, daarna kuier hulle ‘n hond uit ‘n bos uit, sodat hulle nie eens die tannies van die sustersvereniging raaksien as hulle die stukkies verlepte blaarslaai wat uit die broodborde op die grond geval het, optel nie.

Troues is darem gewoonlik meer heuglik, want almal ‘oe’ en ‘aa’ oor die pragtige jong bruid en netjies gemanikuurde bruidegom in hulle ontwerpersklere – hoewel trou deesdae so duur geword het, dat net die mees bevoorregte familielede dit tot by die bruilof maak. Kinders is nie meer by onthale welkom nie en soos wat die jong geslag trou, word pa en ma se ooms en tannies ook nie meer genooi nie, waarvoor dié geslag nie juis kwalik geneem kan word nie, want families ken mekaar nie meer verder as pa en ma se broers en susters en kinders nie. Om verskeie redes natuurlik. Ons geslag het mos weer ‘n groot trek begin. Families raak oor die aardbol vesprei – van Kanada tot Australië, Irak tot die Verenigde Emirate en hier plaaslik enige plek van Pietersburg/Polokwane, tot in die Kaap. Dis nou uitgesluit die spul wat te kwaad of te skaam is vir mekaar (soos dit maar in die meeste normale families gaan).

Maar daar is ander tye vir families en vriende om andersins ook bymekaar te kom, hoewel ek nog nie by baie van hulle was nie. Ons familie het een jaar ‘n paar siekbeddens beleef. My tannie en niggie is deur kanker skrikgemaak, maar is albei na chemoterapie en bestraling ‘skoon’ verklaar. Ekself het my tweede hartoperasie gehad. En al het die operasie baie vinnig gekom en gegaan, het ek en my klein gesinnetjie van drie maar weer deur al die doodgaan-emosies en fases waardeur hartpasiënte maar gaan, gewroeg. Voor ek in is, het een aand vir my man en naby vriende gesê dat ek ‘n fees wil hou as ek oorleef om saam met hom en ons seun en die lewe te celebrate.

En ons het. Een aand, vier maande na die operasie, het ons gesin en vyf van ons vriende en hulle kinders, tydens ‘n toer in Israel, almal wit klere aangetrek en langs die Rooi See in Eilat, die lewe gevier – met een klein botteltjie J.C. le Roux, wat ons vir ons huweliksherdenking die vorige maand by ‘n restaurant persent gekry het. Dit was ‘n beskeie geleentheid, maar het ‘n groot indruk op my gemoed gemaak en daar gelos.

‘n Paar maande later was ons by wat my tannie se 75ste verjaardagpartytjie moes gewees het, maar  my oom het die geleentheid eerder gebruik om my tannie se gesondheid te vier. En dit het my ook bygebly, want oupa Koos het ouma Mienie se lewe gevier asof hulle twintig is en asof die lewe voor hulle lê. Dié twee is intussen al mooi oor die tagtig.

Miskien moet ons minder ernstig wees en net so ‘n bietjie minder oor werk en geld en veiligheid worry en die familievetes vergeet en die mense wat ons liefhet die tyd en erkenning gee wat hulle verdien. En nie wag totdat die dood een van ons in die gesig staar voordat ons mekaar se lewens vier nie. Miskien moet ons net soms vir sommer geen rede nie, ‘n fees reël om saam die lewe te celebrate.

Sê sy wat in die middel van die wêreld weg van familie en vriende sit…

 

© 2015 – Ek, Fielies (Riëtte) De Kock probeer hard om ‘n beste eggenote en minares, goeie ma en ‘n suksesvolle ‘woordpreneur’ te wees. Ek deel op die oomblik ‘n leefwêreld in Kaïro, Egipte, met my man, ons jong, volwasse seun, ‘n gemmerkat, ‘n speelgoedhond, besoedeling, skreeuende immans en te veel storiekarakters in my kop om ‘n normale lewe te lei.

Afrikaans: Leer om toesprake vir jou kinders te skryf – en leer hulle dan om dit self te doen

Logo original

VRYWARING: The Writing Club/Die Skryfklub het geen amptelike verbintenis met die ATKV, óf tree as spreekbuis vir hulle op, óf doen reklame namens die organisasie nie. Die rede hoekom soveel van hulle hulpbronne in hierdie les genoem word, is omdat hulle aktief die Afrikaanse taal bevorder (wat Die Skryfklub ook ondersteun en nastreef) en hulle nou met skole saamwerk in hierdie verband.

Vir hulp om toesprake vir jou kind te bekom indien jy dit steeds nie self wil help skryf nie, kliek hier vir kontakbesonderhede https://fieliesdekock.com/2018/02/14/kontakte-vir-hulp-met-toesprake/

Liewe Ouers,

Dit grief my dat Graad 1-leerders ‘n toespraak gereed moet hê twee weke nadat hulle vir die eerste keer skool toe is. Hulle kan nog nie eens self lees of skryf nie! So, wie doen hulle werk? Jy, natuurlik!

Ek sal nie dieper in my opinie van die skoolsisteem ingaan nie, maar tot die punt kom en jou ‘n paar idees gee om jou te help om jou kinders se toesprake te skryf. Sodoende, wil ek jou help om so min as moontlik onnodige tyd daaraan te spandeer, maar belangrikste van alles is dat ek jou wil help om jou kinders te leer om hulle eie toesprake te kan navors en skryf (sodra hulle kan lees en skryf… #sarkasties)

Dit blyk asof staats- en redenaarskole in Suid-Afrika meestal die ATKV-riglyne vir redenaars volg. Vir die jaar se temas, hoe lank die toesprake moet wees en ander hulpbronne, besoek hulle webwerf by https://www.atkv.org.za/af/taal/redenaars/atkv-redenaars-temas-2016.

Soos uit bestaande voorbeelde van toesprake blyk, is daar ‘n duidelike en eenvoudige struktuur wat gevolg kan word om ‘n praatjie te skryf. Die inhoud, tema en lengte hang van die ouderdomsgroepe af.

Hierdie skrywe is geensins daarop gemik om ‘n in-diepte studie of les oor toespraakskryf te wees nie, maar bloot ‘n hulpmiddel om besige ma’s te help.

Jy is dus baie welkom om hierdie wenke gratis, vry en verniet met jou vriendinne te deel. Moet asseblief net nie jou eie besigheid daarmee begin en dit verkoop nie. 🙂

Stuktuur van ‘n toespraak

Die basiese struktuur van ‘n redenaarstoespraak bestaan uit:

Die ‘kop’ van die toespraak

  • ‘n Aanhef
    • Hierdie is basies net die ‘groet’ van die voorsitter (wat deesdae net in die manlike aanspreekvorm) is.
  • Inleidende paragraaf
    • In hierdie paragraaf word die tema aangespreek, sodat die voorsitter, gehoor, beoordelaars weet wat beredeneer gaan word.
  • ‘Groet van die gehoor’
    • Voordat die beredenering begin, erken die spreker eers die gehoor se teenwoordigheid (“Dames en here” of “Seuns en dogters” of (“Dames en here, seuns en dogters” )

Die ‘lyf’ van die toespraak

  • Inhoud
    • Hierna volg drie of meer paragrawe na gelang van tema, tyd en ouderdomsgroep, waarin die tema beredeneer word. Elke paragraaf moet die volgende bevat:
      • ‘n Standpunt of opinie oor die onderwerp, met ander woorde, jou (die kind s’n) mening oor die onderwerp. Jy sal eers hiermee moet help. (Lees meer onder Wenke.)
      • Elke punt wat gemaak word, moet met ‘n rede daarvoor of daarteen ondersteun word.
      • Ter stawing hiervan moet ‘n aanhaling (persoon, boek, gesegde ens.) en/of ‘n feit (met detail van herkoms – bron, datum, omstandighede ens) ter ondersteuning aangebied word.

Die ‘bene’ van die toespraak

  • Afsluitingsparagaaf
    • Die een been bestaan uit die afsluitingsparagraaf. Hierin kom al die beredenering tot ‘n punt. Los drade word saamgevat. Die finale argument word versterk, maar geen nuwe feite word hier genoem nie. Die afsluiting moet weereens ondersteun word deur ‘n aanghaling of gesegde deur ‘n bekende/beroemde persoon.
    • Die ander been is die ‘dankie’-groet. Hier bedank die spreker die voorsitter en gehoor vir hulle aandag. ‘n Eenvoudige, ”Ek dank u, voorsitter”, of iets minder formeels, soos “Baie dankie vir u aandag, voorsitter, dames en here/seuns en dogters” sal doen. Party skole/klasse/groepe kan voorgesê word hoe om te eindig. Nota: Maak seker jou kind vra haar/sy onderwyser.

Hier is ‘n opsomming van die struktuur om naby te hou of dalk op jou kennisgewingbord te sit.

Slide2

Hier is ook ‘n prentjie om die struktuur vir die kleiner kind te verduidelik, sodat sy beter kan verstaan en haar later te help om haar toesprake self te skryf.

Slide4

Wenke

  • Wanneer jy die toespraak skryf, laat jou kind bysit. Laat hy jou help om die onderwerp te kies.
  • Wanneer daar op ‘n onderwerp besluit is, vra die kind om te probeer om sy menings oor die onderwerp te gee. Bv. Tema: Moet ons skoolklere dra?
    • Laat jou kind eerstens sê of hy daarvoor of daarteen
    • Laat hom om dan drie redes te gee vir sy standpunt.
    • Help hom dan soek na aanhalings, gesegdes en/of feite om sy standpunt te ondersteun.

(Hierdie is ‘n goeie oefening om deurentyd met jou kinders te doen. Betrek hulle by besluitnemings in die huishouding. Beredeneer dit om die etenstafel. Onthou die reël: vir elke mening MOET daar ‘n rede gegee word. Draai die situasie soms om en laat hulle die teenoorgestelde van hulle mening verdedig. Dit oefen hulle ‘dinkspiere’ en leer hulle ook om empatie met ander se standpunte/omstandighede te hê.)

  • Daar word van die kinders verwag om hulle toesprake uit hulle koppe te ken (asof die graadeentjies ‘n keuse het…).
    • Ek het gevind dat die maklikste manier om jou kind daarmee te help, is om die toespraak in jou (mamma) se stem op jou foon op te neem.
    • Oefen die toespraak ‘n paar keer vir jouself en voeg die verandering in stemtoon, nuanses, beklemtoning in, sodat dit kind dit kan hoor en so memoriseer. Onthou, die kind memoriseer presies soos hy/sy hoor.

(Die ‘voordra’ van hierdie toespraak is presies dit – voordrag, so dis baie vol drama en handgebare en nuanses. Laat jou kind die toespraak stukkie vir stukkie memoriseer en soveel as moontlik vir jou voordra. Jy kan hiermee help tot die beste van jou vermoë. As jou kind deurgaan na ‘n volgende rondte in die skool, sal die onderwysers verder help afrig.)

  • Skryf in eenvoudige, onopgesmukte taal, sodat dit gepas is vir die kind se ouderdomsgroep. Lees die toespraak ‘n paar keer oor en verbeter wat jy kan. Sny onnodige woorde uit en maak seker dat jy genoeg beredenering in het, asook aanhalings en/of feite by elke rede.
  • ‘Breek’ die toespraak in baie kort lyne op (sien my voorbeelde), druk en knip dit uit en plak dit op kaartjies. Plak net drie lyne per kaartjie op, sodat die kind nie hoef te sukkel om te sien waar sy is nie. Nommer die kaartjies, sodat jou kind dit maklik self in volgorde kan plaas. Jy kan selfs die lyne per kaartjie nommer as jy dink dit sal help. Help haar dan om die toespraak te hou met behulp van die kaartjies. (Elke keer as ‘n kaartjie se inhoud klaar voorgedra is, plaas sy dit onderaan al die ander.)
  • Doen jou kinders die guns wanneer jy hulle beperk/verbied om sekere dinge te doen of wanneer jy sekere reëls instel deur aan hulle te verduidelik hoekom jy dit doen. Gee hulle een of twee of meer goeie redes en moenie jouself skuldig maak aan ons Afrikaners se “omdat ék so sê”-sindroom nie. Dit suig.

Kinders so klein as twee/drie kan verstaan dat hy een dag winkel toe kan gaan om ‘n swietie of ‘n speelding te koop en ‘n ander dag net mag rondkyk. Ek het dit getoets. As kinders gevolge kan verstaan, kan hulle jou reëls insien. Dit help hulle om nie so maklik rebels te wees nie en om vir hulleself te dink. Ons het denkende jongmense in ons land nodig. Voed asseblief vir ons ‘n paar op!

O, jinne, laat ek ophou voor ek preek.

Nog oefeninge om jou kind te help

  • Speel speletjies wanneer julle in die kar oppad is of in ‘n wagkamer moet wag.
  • Vra jou kind om die omgewing of ‘n voorwerp vir jou te beskryf. (Hoe dit lyk, wat jy daarmee doen, ens.)
  • ‘Dwing’ jou kind om buite te speel, waar hy sy verbeelding moet gebruik.
  • Verbied digitale speletjies (rekenaar, foon, PS, Xbox ens) as die volgende dag ‘n skooldag is en beloon hulle met langer tye van ‘n uur en ‘n half op ‘n slag of so, tydens naweke en vakansies.
  • Maak ‘dinktyd’. Geen mens kan opinies hê sonder dat hy voorkeure of afkeure het nie. Ek ontmoet baie kinders wat nie weet waarvan hulle hou en waarvan nie. Ja, regtig. Ons kan nie opinies vorm as ons nie onsself ken of weet wat in die wêreld om ons aangaan nie. Die enigste manier om jouself te leer ken, is om gereeld tyd te neem om net te dink.
  • Maak dagdroomtyd. Met my skryfklubs doen ek ‘n les oor dagdroom. Daar het nog na elke werkwinkel ten minste een kind die volgende week teruggekom en gesê: “Ek weet nie hoe om te dagdroom nie.” Dis hartseer, want dis ‘n kind se enigste rêrige werk. In plaas daarvan om vir jou klein kindertjies ‘n fliek aan te sit om hulle besig te hou, laat hulle eerder hulle eie ‘opmaak’-stories speel. Hulle is baie goed daarmee, maar kinders word deesdae so geentertain, dat hulle nie meer hulle eie verbeelding het en hulleself kan entertain ‘n Goeie manier om kreatiwiteit aan te moedig is om een sinnetjie uit julle gesin se woordeskat te verban. Dit is: “Ek is verveeld..!” Daardie sinnetjie moet net op een manier beantwoord word: “’n Kind mag nie verveeld wees nie. Dink iets uit om te doen.” Hou vol daarmee. Dis ‘n gewoonte wat vinnig afgeleer word as ouers die moeite doen. En dan is dit natuurlik altyd goed om deur voorbeeld te lei…
  • Kinders en grootmense het ‘aftye’ nodig sodat ons breine kan rus en energie hernu. Maak tyd ten minste eenkeer per week vir die hele familie om niks te doen nie. Al is dit net vir twee ure. Verban selfone, TV en ander elektroniese goed en lê net leeg!
So, mamma, oor ‘n maand is dit tyd vir jou kinders se Engelse toesprake. Jy is nou toegerus om dit self te skryf. Pas net dieselfde beginsels toe. Byt vas, een van die dae leer jy hulle om dit self te doen!

Daar is regtig nog baie wenke op die internet beskikbaar. Benewens www.atkv.org.za, is daar ook: www.redenaars.co.za, www.storiewerf.co.za, sterredenaars.wix.com, www.watsejyredenaars.com, toespraakhulp.blogspot.com, www.youtube.com

‘n Nagedagte

Daar is ook baie Engelse webwerwe wat uitstekende hulp bied, maar dit verskil van hoe Afrikaanse skole dit doen. Persoonlik verkies ek eersgenoemde meer, want kinders word meer aangemoedig om hulle eie werk te doen, interessante onderwerpe te kies en meer vir hulleself te dink.

Vir hulp om toesprake vir jou kind te bekom indien jy dit steeds nie self wil help skryf nie, kliek hier vir kontakbesonderhede https://fieliesdekock.com/2018/02/14/kontakte-vir-hulp-met-toesprake/

Hulpbronne

As jou kind een van daai oulike, bekkige, dramatiese outjies is en as ‘n kampioenredenaar ontluik, gaan jy baaaaaie toesprake in 12 jaar nodig hê. Leer hulle so gou as moontlik om hulle eie ding doen, maar help altyd met die taal, redenasies ens. en as jy vasbrand, is daar hulp op die volgende plekke.

Videos

http://www.redenaars.co.za/cu4/ATKV-Redenaars-riglyne.aspx

eBoeke

http://www.redenaars.co.za/c4/Skryf-Self.aspx

Koop Afrikaanse toeprake

http://www.redenaars.co.za/c2/Nuwe-Toespraak.aspx

http://sterredenaars.blogspot.com/

Voorbeelde van Afrikaanse toesprake (slegs te koop)

http://www.redenaars.co.za/c3/Bestaande-Toespraak-Voorbeelde.aspx

http://www.redenaars.co.za/c26/Graad-1—3.aspx

Voorbeelde van Afrikaanse toesprake (Gratis)

http://www.storiewerf.co.za/kollig/re_voorbeeld.htm

http://sterredenaars.wix.com/ster-redenaars#!voorbeelde/cov2

Voorbeelde van Engelse toesprake (Gratis)

http://www.watsejyredenaars.com/#!voorbeelde/c24vq

Werkwinkels (Betaal)

http://www.redenaars.co.za/c5/Slypskole.aspx

Hulp met Afrigting

http://toespraakhulp.blogspot.com/2013/02/belangrike-raad-vir-jong-redenaars.html

Kyk toesprake op YouTube

Vir hulp om toesprake vir jou kind te bekom indien jy dit steeds nie self wil help skryf nie, kliek hier vir kontakbesonderhede https://fieliesdekock.com/2018/02/14/kontakte-vir-hulp-met-toesprake/

Voorbeelde van toesprake (Hierdie toesprake is spesiaal vir twee kinders geskryf, so moet dit asseblief nie gebruik nie.)

Voorbeeld 1 Met grysheid kom die wysheid

Voorsitter,

Daar is ‘n spreekwoord wat sê dat grysheid wysheid bring. Is dit so? Dit is soms so. Maar ook soms nié.

Dames en here / Seuns en meisies,

Eerstens is daar ‘n verskil tussen slim en wys. Slim is as ‘n mens baie leer. Jy kan nog baie jonk en baie slim wees. Soos Bill Gates van Microsoft wat dit regkry om die hele wêreld op rekenaars te laat werk. Hy is baie slim, maar ook wys, want hy sê kinders moet baie lees. Ek weet nie of hy dit gesê het toe hy al grys was nie.

Die wetenskaplike, Albert Einstein, was baie slim én baie wys. Hy het moeilike probleme opgelos en ontdek hoe dinge werk. Hy het ook gesê dat verbeelding belangriker as kennis is. Al was hy grys, dink ek nie hy was dan ooit ‘n grootmens nie, want grootmense sê soms anders.

(En), voorsitter, Dan is daar my ouma, Antjie. Sy is grys én slim én wys. Sy is so wys, sy is sommer een van ‘n tweeling. Ouma Antjie kan koek bak en stories vertel en grappies maak en einas regdokter en baie mooi prente verf.

Dames en here / Seuns en meisies,

Daar is altyd uitsonderings. Jesus was die wysste van almal en Hy het hemel toe gegaan vóórdat Hy grys was. En soms as kinders iets ouliks sê, dan sê die oumas:

“Is sy nie te grys nie?!”

So, ek is nie heeltemal seker dat alle wysheid met grysheid kom nie. Maar één ding weet ek! Dit rym!

Baie dankie, voorsitter

Voorbeeld 2 Een vrot appel steek al die ander aan

 Voorsitter,

Kan één ou klein appeltjie nou regtig ‘n hele boks vol appels vrot maak? Volgens die Bybel en baie slim mense, kan dit!

Dames en here, Appels en Pere / Seuns en meisies,

Op die webblad – todayifoundout.com – skryf Daven Hiskey dat ‘n slegte appel gewoonlik ‘n siekte het of dat dit oorryp is. Daardie één appel kan regtig al die ander appels om hom aansteek en vrot maak! Hy weet, want hy is ‘n baie slim man wat met met appels werk.

(Maar), voorsitter, Dié idioom praat nie rêrig van appels nie. Dit gaan eintlik oor slegte mense wat goeie mense leer om slegte dinge te doen. In 1 Korinthiërs 15 vers 33 in die Bybel staan: Slegte geselskap bederf goeie sedes. Die Bybel sal weet. Dis die slimste boek op aarde.

‘n Anonieme aanhaling sê dat ‘n mens se gesin jou eerste vriende is. Ons familie is die mense wat ons die liefste het. Hulle sal ons nie leer om slegte dinge te doen nie. So, as ons eerste vriende ons familielede is, sal ons nie vrot appels word nie!

Dames en here / Seuns en meisies,

Meneer George Washington was ‘n Amerikaanse president en nóg ‘n slim man. Hy het gesê dat dit beter is om alleen te wees as om slegte vriende te hê. Maar ek sê, kies van jongs af goeie vriende en jy hoef nooit alleen pret te hê nie! Is ek nie ook slim nie?

Baie dankie, voorsitter

© 2015 – I, Fielies (Riëtte) De Kock tries hard to be a Proverbs 31-woman – excellentest wife, finest mom, greatest lover and successful ‘wordpreneur’ all at the same time. I temporarily share my living space in Cairo, Egypt with my husband, young-adult son, the building’s ginger cat – and the space in my head with way too many ideas and multitudes of story characters to live as a normal functioning human being.

Vir hulp om toesprake vir jou kind te bekom indien jy dit steeds nie self wil help skryf nie, kliek hier vir kontakbesonderhede https://fieliesdekock.com/2018/02/14/kontakte-vir-hulp-met-toesprake/

Uit die dagboek van ‘n slaaplose

sleepless01

Dis so stil as wat dit snags op Sionsberg kán wees. Genadiglik is dit lank na middernag en die Moslem immams skree nie uit alle windrigtings nie. As ek lank genoeg wakker lê, sal ek die ongenadige oproepe van die vroegoggendgebede hoor. Dankie tog dat ek nie hoef te probeer bid met iemand wat so op my skree nie. Maar dan aanbid ek ‘n genadige God wat my laat kies wanneer en hoe ek tot Hom wil bid en tot wie ek enige tyd , enige plek of sommer heeltyd kan bid.

Sal ek ‘n slaappilletjie drink? Nee-wat, in al ons ses trips hierheen het ek nog nooit ‘n wakkerlênag gehad nie. Die slaap sal kom. Die horlosie op my selfoon sê dat ek in elk geval nie ‘n heel een sal kan sluk nie. Wanneer dit wel met my weerstandige sisteem akkordeer, werk dit vir ‘n volle agt ure. Maar daar’s lankal nie meer soveel ure in die nag oor nie. Slaap sal nou-nou kom, maak ek myself weer teen my beterwete wys. Ek ken mos nou al die tekens, maar kies steeds om dit te ignoreer in die hoop dat dit tóg sal kom. My oë is weer toe en ek konsentreer om vaak te word.

Ons is op toer in Israel en slaap in ‘n dormitory met ses oop kamers – drie pare van twee kamers oorkant mekaar. Ek en my man, Deon, slaap in die eerste kamer links as jy by die deur inkom op ons makeshift dubbelbed. Oorkant ons op die boonste van die een bunkerbed slaap ons seun, Michael, en op die onderste twee beddens snork Migaél en Ariél, ons vriende se onderskeidelik ses- en driejarige. Ons is gewoond om saam met dié twee snorkertjies/slaappratertjies in een vertrek te slaap. Maar ek moet sê – op hierdie trip snork hulle nie so erg nie. Ek dink hulle is te moeg daarvoor. Hulle gesels. Soos Migaél nou. Hy raas met sy boetie en klik dan by sy pa oor iets wat kleinboetie gedoen het. Selfs in die onderbewussyn floreer die sibling rivalry.

Die selfoonhorlosie wys dis al ‘n halfuur later. Ek moes dalk maar ‘n halwe pilletjie gevat het al. Almal slaap, behalwe ek en Janet, die buurvrou in die kamer langs die seuns s’n. Ek kan hoor sy’s wakker omdat sy elke paar sekondes haar kop met die kussing toedruk om die klank van haar aanhoudende hoesbuie te probeer demp. Gisteraand was dit dieselfde ding. Sodra dit nag raak, begin sy hoes. Die verskil is net dat ek gisteraand nie slapeloos was nie. Sy voel skuldig omdat sy so hoes en en terwyl ek nog lê en wonder of ek ooit gaan aan die slaap raak, sluip sy saggies in die donker by ons kamer verby en maak die sinkdeur op sy sagste raserigheid oop en gaan buitentoe. Seker toilet toe, dag ek en konsentreer weer op die slaappoging. Maar sy kom eers heelwat later terug.

“Het buite gaan staan”, verduidelik sy fluisterend, in die hoop dat sy sal ophou hoes.

“Nie in die koelheid van die Jerusalemse herfsluggie nie”, kommentaar ek.

“Jammer dat ek jou wakker hou”, vra sy om verskoning.

Ek sê: “Nee wat, dit kry ek sommer self reg.”

Ons giggel saam oor die klein seuntjies se in-hulle-slaap-pratery en ek soek met my flitsie vir haar Strepsils in die noodhulpsak. Ons sê weer nag in die hoop dat die slaap sal kom. Ons is net albei weer rustig in ons beddens toe ons ‘n ernstige ‘doef!’ hoor. Dit klink kompleet soos ‘n kind wat uit sy bed val. Ek sit regop en loer na die oorkantste kamer toe. Dit lyk of daar ‘n donker skadukol op die vloer is wat nie daar was nie, maar daar is geen beweging nie. Dit kan tog nie wees nie? Die kind kon tog nie uit sy onderste bed geval het nie?

Dis nou doodstil in die dorm – asof die plofslag alle ander geluide uitgedoof het. Ek sak terug in my bed en vra of Janet dit ook gehoor het en sy sê ja. Ek dag ek sal maar opstaan en kyk of die kinders ordentlik toe is. Tot my skok stamp ek my voet teen die skadukol op die vloer, wat klein Ariél is – op sy magie op die vloer, boude in die lug en ineengestrengel met die komberse. Vas aan die slaap! Ek tel hom versigtig op en sit hom terug op sy bed. Wat as hy op sy kop geval het en bewusteloos is en breinskade opgedoen het? Ek vertrou maar vir die beste en bid vir die teendeel, wetende dat ek na dié eskapade definitief nie gou gaan slaap nie. Ek’s bly Janet is wakker. Ons giggel weer. Ek dink nie enige iemand sou my weergawe alleen van die uit-die-bed-vallery geglo het nie. Gelukkig het ek nou in haar ‘n getroue getuie. Ek loer by die seuntjies se ouers se kamer in. Hulle weet van niks en slaap die slaap van moeë, droomloses wat nie vannag oor hulle kinders hoef te worry nie.

Ek’s nou desperaat vir slaap. Die selfoonhorlosie kondig aan dat ek nie eens meer ‘n halwe slaappil sal kan vat nie. Ek haat slaaplose nagte! Ek lê weer in die donker en staar en luister na Janet se gedempte hoesies. Ek hoop nie sy vergeet die kussing op haar gesig en… Nee, tog. In die nag is alles altyd so erg! Ek klink soos ‘n ou tannie. Ek wens ek het geweet waar in die donker ek kan soek vir my MP3-player. Tegnologie beteken ook niks as jy dit nie kan gebruik nie. Maar dan weer, as ek lê en musiek luister, sal ek nie hoor as kinders uit hulle beddens val of Hamas met bazookas in die dorm instorm nie!

‘n Haan begin sy oggendkraai. Ons bly op die plek waar Petrus twee millennia gelede vir Yeshua (Jesus in jou Afrikaanse Bybel) verloën het. Snaaks hoe party dinge nooit verander nie. Na 2000 jaar kraai die hane steeds om ons aan Petrus se vertwyfeling te herinner.

Nou weet ek wat kom. As die hane begin kraai, begin die immams skree. Dit klink nogal na die geskree van iemand met ‘n allervreeslike maagpyn. Janet se hoes is stil. Ek hoop nie dis die kussing se skuld nie…

En daar is dit. Die geskree weergalm deur die Kidronvallei. En regdeur die dorm se deure en vensters en mure tot binne-in my ore. Slaap het nie vannag gekom nie. Leoni sluip verby badkamer toe en loer by haar seuns in toe sy terugkom. Ek moes tog vir ‘n oomblik ingesluimer het, want toe ek weer sien, val die son deur die venster en Deon sit koffie op die makeshift bedkassie neer. Die res van die kamers se inwoners paradeer in tussenposes verby, tandeborsels en handdoeke in die hand. Ek moet 07:15 vir komsbuisdiens aanmeld. Daar is ook geen opening vir niksdoen in die dagboek van ‘n slapelose nie. Vanaand vat ek ‘n slaappil!

2009 Fielies de Kock

Fielies de Kock is is ook vrou en ma en hoop om binnekort ‘n meer suksesvolle skrywer te word. Sy bly tans in Kaïro, Egipte, waar sy en haar gesin die vreemde taal en kultuur probeer oorleef, terwyl hulle na hulle familie, vriende en vier honde verlang. (En stadig, maar seker en  onwillig begin lief raak vir die gebou se amptelike gemmerkat – net bekend as Die Kat.)

 

Fielies is ook as Riëtte De Kock bekend. Haar eerste kinderboek, Yeovangya, asook twee kortstories is as eboeke beskikbaar by https://www.amazon.com/gp/aw/s/ref=is_s?k=riette+de+kock