Om die lewe te celebrate

eilat

Gewoonlik kom families bymekaar om troue of begrafnis te hou en net soms in hierdie gelooflose samelewing nog as iemand (klein of groot) gedoop word. By begrafnisse huil almal saam oor die verbygaande aard van ons almal se bestaan en ook oor die familielid in die kis wat eers weer in die lewe hierna te siene sal wees. Dan, daarna kuier hulle ‘n hond uit ‘n bos uit, sodat hulle nie eens die tannies van die sustersvereniging raaksien as hulle die stukkies verlepte blaarslaai wat uit die broodborde op die grond geval het, optel nie.

Troues is darem gewoonlik meer heuglik, want almal ‘oe’ en ‘aa’ oor die pragtige jong bruid en netjies gemanikuurde bruidegom in hulle ontwerpersklere – hoewel trou deesdae so duur geword het, dat net die mees bevoorregte familielede dit tot by die bruilof maak. Kinders is nie meer by onthale welkom nie en soos wat die jong geslag trou, word pa en ma se ooms en tannies ook nie meer genooi nie, waarvoor dié geslag nie juis kwalik geneem kan word nie, want families ken mekaar nie meer verder as pa en ma se broers en susters en kinders nie. Om verskeie redes natuurlik. Ons geslag het mos weer ‘n groot trek begin. Families raak oor die aardbol vesprei – van Kanada tot Australië, Irak tot die Verenigde Emirate en hier plaaslik enige plek van Pietersburg/Polokwane, tot in die Kaap. Dis nou uitgesluit die spul wat te kwaad of te skaam is vir mekaar (soos dit maar in die meeste normale families gaan).

Maar daar is ander tye vir families en vriende om andersins ook bymekaar te kom, hoewel ek nog nie by baie van hulle was nie. Ons familie het een jaar ‘n paar siekbeddens beleef. My tannie en niggie is deur kanker skrikgemaak, maar is albei na chemoterapie en bestraling ‘skoon’ verklaar. Ekself het my tweede hartoperasie gehad. En al het die operasie baie vinnig gekom en gegaan, het ek en my klein gesinnetjie van drie maar weer deur al die doodgaan-emosies en fases waardeur hartpasiënte maar gaan, gewroeg. Voor ek in is, het een aand vir my man en naby vriende gesê dat ek ‘n fees wil hou as ek oorleef om saam met hom en ons seun en die lewe te celebrate.

En ons het. Een aand, vier maande na die operasie, het ons gesin en vyf van ons vriende en hulle kinders, tydens ‘n toer in Israel, almal wit klere aangetrek en langs die Rooi See in Eilat, die lewe gevier – met een klein botteltjie J.C. le Roux, wat ons vir ons huweliksherdenking die vorige maand by ‘n restaurant persent gekry het. Dit was ‘n beskeie geleentheid, maar het ‘n groot indruk op my gemoed gemaak en daar gelos.

‘n Paar maande later was ons by wat my tannie se 75ste verjaardagpartytjie moes gewees het, maar  my oom het die geleentheid eerder gebruik om my tannie se gesondheid te vier. En dit het my ook bygebly, want oupa Koos het ouma Mienie se lewe gevier asof hulle twintig is en asof die lewe voor hulle lê. Dié twee is intussen al mooi oor die tagtig.

Miskien moet ons minder ernstig wees en net so ‘n bietjie minder oor werk en geld en veiligheid worry en die familievetes vergeet en die mense wat ons liefhet die tyd en erkenning gee wat hulle verdien. En nie wag totdat die dood een van ons in die gesig staar voordat ons mekaar se lewens vier nie. Miskien moet ons net soms vir sommer geen rede nie, ‘n fees reël om saam die lewe te celebrate.

Sê sy wat in die middel van die wêreld weg van familie en vriende sit…

 

© 2015 – Ek, Fielies (Riëtte) De Kock probeer hard om ‘n beste eggenote en minares, goeie ma en ‘n suksesvolle ‘woordpreneur’ te wees. Ek deel op die oomblik ‘n leefwêreld in Kaïro, Egipte, met my man, ons jong, volwasse seun, ‘n gemmerkat, ‘n speelgoedhond, besoedeling, skreeuende immans en te veel storiekarakters in my kop om ‘n normale lewe te lei.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s