Om Noord te vind

Read the English version

My pa het my geleer dat jy altyd Noord moet vind wanneer jy in ‘n nuwe plek aankom, want dan sal jy nooit verdwaal nie. Hy het al twee en twintig jaar gelede reeds sy Weg gevind en het nie meer die sterre nodig vir rigting nie.

Ek, aan die anderkant, soek nog steeds my Noord wanneer ons in ‘n nuwe dorp of stad aankom. Hier is dit nie juis te uitdagend nie, maar ek moet erken dat ek, toe ons in die buiteland gebly of daarheen gereis het, dit nie altyd kon regkry nie.

Ons het vir ‘n tyd lank in Egipte gebly en na die Midde-Ooste en Europa gereis en wanneer ek saans na die hemel opgekyk het en nie die Suiderkruis in die Noordelike Halfrond kon sien nie, het ek ‘n bietjie verlore gevoel. My innerlike kompas wou net nooit sy Noord vind nie. Alles het vir my agterstevoor en onderstebo gevoel. En dit het ook nie gehelp dat die Nyl van die Bybel in die ‘verkeerde’ rigting gevloei het nie.

In Egipte het ek maar vir Oos en Wes begin soek. Ek en my man, Deon, het op die tweede dag in Kaïro verdwaal toe ons gaan stap het. Gelukkig kon ons later die sakkende son tussen die hoë geboue sien en het toe in daai rigting gestap, want ons het geweet die Nyl loop daar. In Kaïro was die Nyl my Noord – al was dit gewoonlik Oos of Wes vanwaar ons gekom of waarheen ons gegaan het.

Vanaand toe ons seun, Michael, na sy huisie toe stap, klop hy aan die venster en sê ek moet die sterre kom kyk. En daar hang die melkweg in die beurtkragdonkerte oor die dorp, met die Suiderkruis wat my herinner – ons is tuis.

© 2022 Fielies De Kock

Ma. Vrou. Skrywer. Bly in Hermanus in die Overberg, Suid-Afrika, met ‘n man, volwasse seun en twee honde. Skrywer van ‘n kinderboek, Yeovangya’s Quest, en kortstories en mede-skrywer van 125 Creative Writing Prompts for Petrolheads saam met einste volwasse seun wat vir ‘n webblad oor karre skryf.

1 thoughts on “Om Noord te vind

  1. […] Lees die Afrikaanse weergawe […]

    Like

Leave a comment