Dis so stil as wat dit snags op Sionsberg kán wees. Genadiglik is dit lank na middernag en die Moslem immams skree nie uit alle windrigtings nie. As ek lank genoeg wakker lê, sal ek die ongenadige oproepe van die vroegoggendgebede hoor. Dankie tog dat ek nie hoef te probeer bid met iemand wat so op my skree nie. Maar dan aanbid ek ‘n genadige God wat my laat kies wanneer en hoe ek tot Hom wil bid en tot wie ek enige tyd , enige plek of sommer heeltyd kan bid.
Sal ek ‘n slaappilletjie drink? Nee-wat, in al ons ses trips hierheen het ek nog nooit ‘n wakkerlênag gehad nie. Die slaap sal kom. Die horlosie op my selfoon sê dat ek in elk geval nie ‘n heel een sal kan sluk nie. Wanneer dit wel met my weerstandige sisteem akkordeer, werk dit vir ‘n volle agt ure. Maar daar’s lankal nie meer soveel ure in die nag oor nie. Slaap sal nou-nou kom, maak ek myself weer teen my beterwete wys. Ek ken mos nou al die tekens, maar kies steeds om dit te ignoreer in die hoop dat dit tóg sal kom. My oë is weer toe en ek konsentreer om vaak te word.
Ons is op toer in Israel en slaap in ‘n dormitory met ses oop kamers – drie pare van twee kamers oorkant mekaar. Ek en my man, Deon, slaap in die eerste kamer links as jy by die deur inkom op ons makeshift dubbelbed. Oorkant ons op die boonste van die een bunkerbed slaap ons seun, Michael, en op die onderste twee beddens snork Migaél en Ariél, ons vriende se onderskeidelik ses- en driejarige. Ons is gewoond om saam met dié twee snorkertjies/slaappratertjies in een vertrek te slaap. Maar ek moet sê – op hierdie trip snork hulle nie so erg nie. Ek dink hulle is te moeg daarvoor. Hulle gesels. Soos Migaél nou. Hy raas met sy boetie en klik dan by sy pa oor iets wat kleinboetie gedoen het. Selfs in die onderbewussyn floreer die sibling rivalry.
Die selfoonhorlosie wys dis al ‘n halfuur later. Ek moes dalk maar ‘n halwe pilletjie gevat het al. Almal slaap, behalwe ek en Janet, die buurvrou in die kamer langs die seuns s’n. Ek kan hoor sy’s wakker omdat sy elke paar sekondes haar kop met die kussing toedruk om die klank van haar aanhoudende hoesbuie te probeer demp. Gisteraand was dit dieselfde ding. Sodra dit nag raak, begin sy hoes. Die verskil is net dat ek gisteraand nie slapeloos was nie. Sy voel skuldig omdat sy so hoes en en terwyl ek nog lê en wonder of ek ooit gaan aan die slaap raak, sluip sy saggies in die donker by ons kamer verby en maak die sinkdeur op sy sagste raserigheid oop en gaan buitentoe. Seker toilet toe, dag ek en konsentreer weer op die slaappoging. Maar sy kom eers heelwat later terug.
“Het buite gaan staan”, verduidelik sy fluisterend, in die hoop dat sy sal ophou hoes.
“Nie in die koelheid van die Jerusalemse herfsluggie nie”, kommentaar ek.
“Jammer dat ek jou wakker hou”, vra sy om verskoning.
Ek sê: “Nee wat, dit kry ek sommer self reg.”
Ons giggel saam oor die klein seuntjies se in-hulle-slaap-pratery en ek soek met my flitsie vir haar Strepsils in die noodhulpsak. Ons sê weer nag in die hoop dat die slaap sal kom. Ons is net albei weer rustig in ons beddens toe ons ‘n ernstige ‘doef!’ hoor. Dit klink kompleet soos ‘n kind wat uit sy bed val. Ek sit regop en loer na die oorkantste kamer toe. Dit lyk of daar ‘n donker skadukol op die vloer is wat nie daar was nie, maar daar is geen beweging nie. Dit kan tog nie wees nie? Die kind kon tog nie uit sy onderste bed geval het nie?
Dis nou doodstil in die dorm – asof die plofslag alle ander geluide uitgedoof het. Ek sak terug in my bed en vra of Janet dit ook gehoor het en sy sê ja. Ek dag ek sal maar opstaan en kyk of die kinders ordentlik toe is. Tot my skok stamp ek my voet teen die skadukol op die vloer, wat klein Ariél is – op sy magie op die vloer, boude in die lug en ineengestrengel met die komberse. Vas aan die slaap! Ek tel hom versigtig op en sit hom terug op sy bed. Wat as hy op sy kop geval het en bewusteloos is en breinskade opgedoen het? Ek vertrou maar vir die beste en bid vir die teendeel, wetende dat ek na dié eskapade definitief nie gou gaan slaap nie. Ek’s bly Janet is wakker. Ons giggel weer. Ek dink nie enige iemand sou my weergawe alleen van die uit-die-bed-vallery geglo het nie. Gelukkig het ek nou in haar ‘n getroue getuie. Ek loer by die seuntjies se ouers se kamer in. Hulle weet van niks en slaap die slaap van moeë, droomloses wat nie vannag oor hulle kinders hoef te worry nie.
Ek’s nou desperaat vir slaap. Die selfoonhorlosie kondig aan dat ek nie eens meer ‘n halwe slaappil sal kan vat nie. Ek haat slaaplose nagte! Ek lê weer in die donker en staar en luister na Janet se gedempte hoesies. Ek hoop nie sy vergeet die kussing op haar gesig en… Nee, tog. In die nag is alles altyd so erg! Ek klink soos ‘n ou tannie. Ek wens ek het geweet waar in die donker ek kan soek vir my MP3-player. Tegnologie beteken ook niks as jy dit nie kan gebruik nie. Maar dan weer, as ek lê en musiek luister, sal ek nie hoor as kinders uit hulle beddens val of Hamas met bazookas in die dorm instorm nie!
‘n Haan begin sy oggendkraai. Ons bly op die plek waar Petrus twee millennia gelede vir Yeshua (Jesus in jou Afrikaanse Bybel) verloën het. Snaaks hoe party dinge nooit verander nie. Na 2000 jaar kraai die hane steeds om ons aan Petrus se vertwyfeling te herinner.
Nou weet ek wat kom. As die hane begin kraai, begin die immams skree. Dit klink nogal na die geskree van iemand met ‘n allervreeslike maagpyn. Janet se hoes is stil. Ek hoop nie dis die kussing se skuld nie…
En daar is dit. Die geskree weergalm deur die Kidronvallei. En regdeur die dorm se deure en vensters en mure tot binne-in my ore. Slaap het nie vannag gekom nie. Leoni sluip verby badkamer toe en loer by haar seuns in toe sy terugkom. Ek moes tog vir ‘n oomblik ingesluimer het, want toe ek weer sien, val die son deur die venster en Deon sit koffie op die makeshift bedkassie neer. Die res van die kamers se inwoners paradeer in tussenposes verby, tandeborsels en handdoeke in die hand. Ek moet 07:15 vir komsbuisdiens aanmeld. Daar is ook geen opening vir niksdoen in die dagboek van ‘n slapelose nie. Vanaand vat ek ‘n slaappil!
2009 Fielies de Kock
Fielies de Kock is is ook vrou en ma en hoop om binnekort ‘n meer suksesvolle skrywer te word. Sy bly tans in Kaïro, Egipte, waar sy en haar gesin die vreemde taal en kultuur probeer oorleef, terwyl hulle na hulle familie, vriende en vier honde verlang. (En stadig, maar seker en onwillig begin lief raak vir die gebou se amptelike gemmerkat – net bekend as Die Kat.)
Fielies is ook as Riëtte De Kock bekend. Haar eerste kinderboek, Yeovangya, asook twee kortstories is as eboeke beskikbaar by https://www.amazon.com/gp/aw/s/ref=is_s?k=riette+de+kock
Hi admin, i’ve been reading your site for some time and I really like coming back here.
I can see that you probably don’t make money on your blog.
I know one awesome method of earning money, I think you will like it.
Search google for: dracko’s tricks
LikeLike