Peloton 2 AWOL – ‘n 1987 SALVKOL-staaltjie

#writtenbyahuman

READ THE ENGLISH VERSION HERE

SALVKOL – Suid-Afrikaanse Leër Vrouekollege / Bev Inspeksie – Bevelvoerdersinspeksie

Die storie oor Peloton 2 se AWOL-eskapade onthou ek met groot geneentheid.

Terwyl ons besig was met die Leierskap en bevel-en-beheer fase (LBBV, of so iets) van ons opleiding in die Suid-Afrikaanse Vroueleërkollege, het ons luitenant, Lt Kiewiet (nou Hugo), die eenheid vir ‘n paar dae verlaat om een of ander rede. (Ons wou nie hê sy moes in die moeilikheid beland nie, so ons het gewag tot sy weg is voordat ons ons plan in werking gestel het.) Ons is in die sorg van Korporaal Pinkie Nieuwenhuizen (nie seker oor die spelling nie) gelaat en Kaptein Harris was in beheer van Alpha Kompanie – so sy was verantwoordelik vir ons welsyn.

Tot op daardie dag was ons, Peloton Twee, maar ‘n bra baie gemiddelde spulletjie. Ons het nie in enigiets uitgeblink nie, en ons het nog nie ‘n enkele Bev Inspeksie gewen nie – of enige iets anders gedoen wat ons onderskei het nie. Maar, al was ons ‘n gewone klomp, was ons ‘n goeie groep wat baie pret saam gehad het.

Ons het baie oor verantwoordelikheid geleer tydens die leierskapsfase en moes eintlik ons absolute beste gedrag ten toon gestel het. Maar sommige van ons het begin rusteloos raak. Ons wou graag onthou word vir meer as om net gemiddeld te wees, en so het ons besluit ons moet iets ‘grandieus’ doen. Ons het ‘n plan beraam wat ‘n paar ernstige besprekings in pelotonverband tot gevolg gehad het – aangesien ‘n paar meer gematigde lede teen die gewaagde – en onverantwoordelike – plan was. Ons het uiteindelik dié teenstaanders oorreed om saam te werk – met die belofte dat ons hulle teen enige gevolge sou beskerm, en hulle het ingestem.

Ons het besluit om die weeklikse parade te teiken waar die hele eenheid vir roll call bymekaargekom het. Ons plan was om voor die parade te verdwyn en ‘n leemte op die paradegrond te laat waar ons peloton moes wees. Stel jou dit voor: Ses pelotons moet opmarsjeer, maar een hele peloton is afwesig!

Die oggend het aangebreek en ons het die klein gimnasium se sleutel die vorige dag uit die dienskamer gesteel, baie vroeg opgestaan, ons beddens onopgemaak gelos (want, as daar moeilikheid moes wees, moes dit ordentlik wees!) en stilletjies na die gym gesluip in die nog-donker ure van die dag. Ons het daar gebly, so stil soos muise, terwyl ons ons nie eers kon indink watter chaos dit na sonop in die eenheid en elders sou veroorsaak nie, aangesien die Wes-Kaap Kommandement ingelig moes word dat ‘n hele peloton van die Suid-Afrikaanse Leër Vrouekollege vermis geraak het!

Hoewel ons die ‘operasie’ baie goed beplan het, het ons het nie die gevolge van so ‘n daad baie goed deurdink nie. Trouens, ek dink nie ons het regtig eers geglo dit sou werk nie! So, vir ‘n paar ure was daar chaos, met mense wat buite in die berg, in die dorp en oral waar hulle kon dink, na ons gesoek het. Oral, behalwe in die klein gym in die middel van die eenheid!

In die gym, het ons onself in ons eie onvoorsiene probleme vasgeloop. Die gimnasium het nie ‘n toilet gehad nie, so onder-korporaal Sonette Van der Bank (nee Meiring) het die inisiatief geneem om ‘n inkopiesak-toilet te maak! Gelukkig het iemand ‘n heel, leë sak gehad toe dit nodig was! Toe ons later begin verveeld raak het, het sy ons ook in ‘face aerobics’ gelei – “om toekomstige plooie teë te werk”.

Ons was natuurlik heeltemal onbewus van die pandemonium wat buite die eenheid geheers het, omdat dit so stil binne-in die eenheid was, en teen oggend teetyd het ons nonchalant terug gesluip Watsonia toe, op met die trappe en terug na ons kamers – redelik verveeld en teleurgesteld omdat ons gedink het dat niemand na ons gemis het nie.

Maar, o, genade! Dit was toe dat ons eers besef het hoe ‘suksesvol’ ons obskure eskapadetjie was! Ons het die klik-klak van haaipolfaais in die gang gehoor en toe ons stadig uit ons kamers kom, beddens steeds in fases van onopgemaakheid, het die rooikop Kaptein Harris, met Korporaal Pinkie angstig agter haar – oë te groot vir haar piepklein lyfie – ons ingewag.


“Peloton Twee, what the hell have you done?!” Die kaptein se groen oë was egter nie kwaai nie. Daar was iets soos verligting en dalk selfs ‘n bietjie bewondering in hulle. Nadat sy ons ernstig aangespreek het, het sy dramaties stilgebly, elkeen van ons een vir een in die oë gekyk en met ‘n amperse glimlaggie gesê dat daar gevolge gaan wees. Ons het straf-PT gekry (al is dit nie so genoem nie, omdat dit eintlik ontoelaatbaar was) wat sy soms self kom onderbreek het, as dit gelyk het of ons te veel suffer. (Ons het geensins gesuffer nie.) En so het ons geleer dat die rooikop, rooilippe kaptein eintlik ‘n softy is. Sy het ook persoonlik kom toesig hou toe ons die ambulanse, vragmotors, bus en saalvloer moes was as deel van ons straf. (Ek vermoed daai hout saalvloer was nooit weer dieselfde na al die seep en water nie!)

Kaptein Harris het selfs Korporaal Pinkie se Bybelstudies die volgende paar oggende kom bywoon. (Uit Romeine 8, nogals!) Die kaptein het daardie week ‘n spesiale plek in ons harte gewen en ek glo – ons in hare.

Peloton 2 was nooit weer dieselfde gemiddelde, gewone klomp daarna nie. Luitenant Kiewiet het ‘n ander peloton gevind as die een wat sy agtergelaat het. Die volgende Saterdag het ons ons eerste van twee Bev Inspeksies daardie tweede helfte van die jaar gewen, en ons het ‘n mag geword om mee rekening te hou. En die wonderlike ding was dat dié wat teen die idee was, nie een keer oor die straf gekla het nie – en dit soos ware vroue saam met die res van ons gevat het!

En dit is die berugte Peloton 2 AWOL-storie. Watter buitengewone tyd het ons nie gehad nie! En watter wonderlike herinneringe koester ons nou nog saam met wonderlike, lewenslange vriende!

Saluut, Peloton 2 – 1987!

Fielies De Kock is a freelance content writer/blogger (www.fieliesdekock.com) living in Hermanus in the Overberg, South Africa, with her crazy-haired husband and two dogs. She authored a children’s chapter book and a few short reads and is co-author of 125 Creative Writing Prompts for Petrolheads (available on Amazon Kindle) with her content writer son – who also has crazy hair.

Leave a Reply