Afrikaans: Leer om toesprake vir jou kinders te skryf – en leer hulle dan om dit self te doen

Logo original

VRYWARING: The Writing Club/Die Skryfklub het geen amptelike verbintenis met die ATKV, óf tree as spreekbuis vir hulle op, óf doen reklame namens die organisasie nie. Die rede hoekom soveel van hulle hulpbronne in hierdie les genoem word, is omdat hulle aktief die Afrikaanse taal bevorder (wat Die Skryfklub ook ondersteun en nastreef) en hulle nou met skole saamwerk in hierdie verband.

Vir hulp om toesprake vir jou kind te bekom indien jy dit steeds nie self wil help skryf nie, kliek hier vir kontakbesonderhede https://fieliesdekock.com/2018/02/14/kontakte-vir-hulp-met-toesprake/

Liewe Ouers,

Dit grief my dat Graad 1-leerders ‘n toespraak gereed moet hê twee weke nadat hulle vir die eerste keer skool toe is. Hulle kan nog nie eens self lees of skryf nie! So, wie doen hulle werk? Jy, natuurlik!

Ek sal nie dieper in my opinie van die skoolsisteem ingaan nie, maar tot die punt kom en jou ‘n paar idees gee om jou te help om jou kinders se toesprake te skryf. Sodoende, wil ek jou help om so min as moontlik onnodige tyd daaraan te spandeer, maar belangrikste van alles is dat ek jou wil help om jou kinders te leer om hulle eie toesprake te kan navors en skryf (sodra hulle kan lees en skryf… #sarkasties)

Dit blyk asof staats- en redenaarskole in Suid-Afrika meestal die ATKV-riglyne vir redenaars volg. Vir die jaar se temas, hoe lank die toesprake moet wees en ander hulpbronne, besoek hulle webwerf by https://www.atkv.org.za/af/taal/redenaars/atkv-redenaars-temas-2016.

Soos uit bestaande voorbeelde van toesprake blyk, is daar ‘n duidelike en eenvoudige struktuur wat gevolg kan word om ‘n praatjie te skryf. Die inhoud, tema en lengte hang van die ouderdomsgroepe af.

Hierdie skrywe is geensins daarop gemik om ‘n in-diepte studie of les oor toespraakskryf te wees nie, maar bloot ‘n hulpmiddel om besige ma’s te help.

Jy is dus baie welkom om hierdie wenke gratis, vry en verniet met jou vriendinne te deel. Moet asseblief net nie jou eie besigheid daarmee begin en dit verkoop nie. 🙂

Stuktuur van ‘n toespraak

Die basiese struktuur van ‘n redenaarstoespraak bestaan uit:

Die ‘kop’ van die toespraak

  • ‘n Aanhef
    • Hierdie is basies net die ‘groet’ van die voorsitter (wat deesdae net in die manlike aanspreekvorm) is.
  • Inleidende paragraaf
    • In hierdie paragraaf word die tema aangespreek, sodat die voorsitter, gehoor, beoordelaars weet wat beredeneer gaan word.
  • ‘Groet van die gehoor’
    • Voordat die beredenering begin, erken die spreker eers die gehoor se teenwoordigheid (“Dames en here” of “Seuns en dogters” of (“Dames en here, seuns en dogters” )

Die ‘lyf’ van die toespraak

  • Inhoud
    • Hierna volg drie of meer paragrawe na gelang van tema, tyd en ouderdomsgroep, waarin die tema beredeneer word. Elke paragraaf moet die volgende bevat:
      • ‘n Standpunt of opinie oor die onderwerp, met ander woorde, jou (die kind s’n) mening oor die onderwerp. Jy sal eers hiermee moet help. (Lees meer onder Wenke.)
      • Elke punt wat gemaak word, moet met ‘n rede daarvoor of daarteen ondersteun word.
      • Ter stawing hiervan moet ‘n aanhaling (persoon, boek, gesegde ens.) en/of ‘n feit (met detail van herkoms – bron, datum, omstandighede ens) ter ondersteuning aangebied word.

Die ‘bene’ van die toespraak

  • Afsluitingsparagaaf
    • Die een been bestaan uit die afsluitingsparagraaf. Hierin kom al die beredenering tot ‘n punt. Los drade word saamgevat. Die finale argument word versterk, maar geen nuwe feite word hier genoem nie. Die afsluiting moet weereens ondersteun word deur ‘n aanghaling of gesegde deur ‘n bekende/beroemde persoon.
    • Die ander been is die ‘dankie’-groet. Hier bedank die spreker die voorsitter en gehoor vir hulle aandag. ‘n Eenvoudige, ”Ek dank u, voorsitter”, of iets minder formeels, soos “Baie dankie vir u aandag, voorsitter, dames en here/seuns en dogters” sal doen. Party skole/klasse/groepe kan voorgesê word hoe om te eindig. Nota: Maak seker jou kind vra haar/sy onderwyser.

Hier is ‘n opsomming van die struktuur om naby te hou of dalk op jou kennisgewingbord te sit.

Slide2

Hier is ook ‘n prentjie om die struktuur vir die kleiner kind te verduidelik, sodat sy beter kan verstaan en haar later te help om haar toesprake self te skryf.

Slide4

Wenke

  • Wanneer jy die toespraak skryf, laat jou kind bysit. Laat hy jou help om die onderwerp te kies.
  • Wanneer daar op ‘n onderwerp besluit is, vra die kind om te probeer om sy menings oor die onderwerp te gee. Bv. Tema: Moet ons skoolklere dra?
    • Laat jou kind eerstens sê of hy daarvoor of daarteen
    • Laat hom om dan drie redes te gee vir sy standpunt.
    • Help hom dan soek na aanhalings, gesegdes en/of feite om sy standpunt te ondersteun.

(Hierdie is ‘n goeie oefening om deurentyd met jou kinders te doen. Betrek hulle by besluitnemings in die huishouding. Beredeneer dit om die etenstafel. Onthou die reël: vir elke mening MOET daar ‘n rede gegee word. Draai die situasie soms om en laat hulle die teenoorgestelde van hulle mening verdedig. Dit oefen hulle ‘dinkspiere’ en leer hulle ook om empatie met ander se standpunte/omstandighede te hê.)

  • Daar word van die kinders verwag om hulle toesprake uit hulle koppe te ken (asof die graadeentjies ‘n keuse het…).
    • Ek het gevind dat die maklikste manier om jou kind daarmee te help, is om die toespraak in jou (mamma) se stem op jou foon op te neem.
    • Oefen die toespraak ‘n paar keer vir jouself en voeg die verandering in stemtoon, nuanses, beklemtoning in, sodat dit kind dit kan hoor en so memoriseer. Onthou, die kind memoriseer presies soos hy/sy hoor.

(Die ‘voordra’ van hierdie toespraak is presies dit – voordrag, so dis baie vol drama en handgebare en nuanses. Laat jou kind die toespraak stukkie vir stukkie memoriseer en soveel as moontlik vir jou voordra. Jy kan hiermee help tot die beste van jou vermoë. As jou kind deurgaan na ‘n volgende rondte in die skool, sal die onderwysers verder help afrig.)

  • Skryf in eenvoudige, onopgesmukte taal, sodat dit gepas is vir die kind se ouderdomsgroep. Lees die toespraak ‘n paar keer oor en verbeter wat jy kan. Sny onnodige woorde uit en maak seker dat jy genoeg beredenering in het, asook aanhalings en/of feite by elke rede.
  • ‘Breek’ die toespraak in baie kort lyne op (sien my voorbeelde), druk en knip dit uit en plak dit op kaartjies. Plak net drie lyne per kaartjie op, sodat die kind nie hoef te sukkel om te sien waar sy is nie. Nommer die kaartjies, sodat jou kind dit maklik self in volgorde kan plaas. Jy kan selfs die lyne per kaartjie nommer as jy dink dit sal help. Help haar dan om die toespraak te hou met behulp van die kaartjies. (Elke keer as ‘n kaartjie se inhoud klaar voorgedra is, plaas sy dit onderaan al die ander.)
  • Doen jou kinders die guns wanneer jy hulle beperk/verbied om sekere dinge te doen of wanneer jy sekere reëls instel deur aan hulle te verduidelik hoekom jy dit doen. Gee hulle een of twee of meer goeie redes en moenie jouself skuldig maak aan ons Afrikaners se “omdat ék so sê”-sindroom nie. Dit suig.

Kinders so klein as twee/drie kan verstaan dat hy een dag winkel toe kan gaan om ‘n swietie of ‘n speelding te koop en ‘n ander dag net mag rondkyk. Ek het dit getoets. As kinders gevolge kan verstaan, kan hulle jou reëls insien. Dit help hulle om nie so maklik rebels te wees nie en om vir hulleself te dink. Ons het denkende jongmense in ons land nodig. Voed asseblief vir ons ‘n paar op!

O, jinne, laat ek ophou voor ek preek.

Nog oefeninge om jou kind te help

  • Speel speletjies wanneer julle in die kar oppad is of in ‘n wagkamer moet wag.
  • Vra jou kind om die omgewing of ‘n voorwerp vir jou te beskryf. (Hoe dit lyk, wat jy daarmee doen, ens.)
  • ‘Dwing’ jou kind om buite te speel, waar hy sy verbeelding moet gebruik.
  • Verbied digitale speletjies (rekenaar, foon, PS, Xbox ens) as die volgende dag ‘n skooldag is en beloon hulle met langer tye van ‘n uur en ‘n half op ‘n slag of so, tydens naweke en vakansies.
  • Maak ‘dinktyd’. Geen mens kan opinies hê sonder dat hy voorkeure of afkeure het nie. Ek ontmoet baie kinders wat nie weet waarvan hulle hou en waarvan nie. Ja, regtig. Ons kan nie opinies vorm as ons nie onsself ken of weet wat in die wêreld om ons aangaan nie. Die enigste manier om jouself te leer ken, is om gereeld tyd te neem om net te dink.
  • Maak dagdroomtyd. Met my skryfklubs doen ek ‘n les oor dagdroom. Daar het nog na elke werkwinkel ten minste een kind die volgende week teruggekom en gesê: “Ek weet nie hoe om te dagdroom nie.” Dis hartseer, want dis ‘n kind se enigste rêrige werk. In plaas daarvan om vir jou klein kindertjies ‘n fliek aan te sit om hulle besig te hou, laat hulle eerder hulle eie ‘opmaak’-stories speel. Hulle is baie goed daarmee, maar kinders word deesdae so geentertain, dat hulle nie meer hulle eie verbeelding het en hulleself kan entertain ‘n Goeie manier om kreatiwiteit aan te moedig is om een sinnetjie uit julle gesin se woordeskat te verban. Dit is: “Ek is verveeld..!” Daardie sinnetjie moet net op een manier beantwoord word: “’n Kind mag nie verveeld wees nie. Dink iets uit om te doen.” Hou vol daarmee. Dis ‘n gewoonte wat vinnig afgeleer word as ouers die moeite doen. En dan is dit natuurlik altyd goed om deur voorbeeld te lei…
  • Kinders en grootmense het ‘aftye’ nodig sodat ons breine kan rus en energie hernu. Maak tyd ten minste eenkeer per week vir die hele familie om niks te doen nie. Al is dit net vir twee ure. Verban selfone, TV en ander elektroniese goed en lê net leeg!
So, mamma, oor ‘n maand is dit tyd vir jou kinders se Engelse toesprake. Jy is nou toegerus om dit self te skryf. Pas net dieselfde beginsels toe. Byt vas, een van die dae leer jy hulle om dit self te doen!

Daar is regtig nog baie wenke op die internet beskikbaar. Benewens www.atkv.org.za, is daar ook: www.redenaars.co.za, www.storiewerf.co.za, sterredenaars.wix.com, www.watsejyredenaars.com, toespraakhulp.blogspot.com, www.youtube.com

‘n Nagedagte

Daar is ook baie Engelse webwerwe wat uitstekende hulp bied, maar dit verskil van hoe Afrikaanse skole dit doen. Persoonlik verkies ek eersgenoemde meer, want kinders word meer aangemoedig om hulle eie werk te doen, interessante onderwerpe te kies en meer vir hulleself te dink.

Vir hulp om toesprake vir jou kind te bekom indien jy dit steeds nie self wil help skryf nie, kliek hier vir kontakbesonderhede https://fieliesdekock.com/2018/02/14/kontakte-vir-hulp-met-toesprake/

Hulpbronne

As jou kind een van daai oulike, bekkige, dramatiese outjies is en as ‘n kampioenredenaar ontluik, gaan jy baaaaaie toesprake in 12 jaar nodig hê. Leer hulle so gou as moontlik om hulle eie ding doen, maar help altyd met die taal, redenasies ens. en as jy vasbrand, is daar hulp op die volgende plekke.

Videos

http://www.redenaars.co.za/cu4/ATKV-Redenaars-riglyne.aspx

eBoeke

http://www.redenaars.co.za/c4/Skryf-Self.aspx

Koop Afrikaanse toeprake

http://www.redenaars.co.za/c2/Nuwe-Toespraak.aspx

http://sterredenaars.blogspot.com/

Voorbeelde van Afrikaanse toesprake (slegs te koop)

http://www.redenaars.co.za/c3/Bestaande-Toespraak-Voorbeelde.aspx

http://www.redenaars.co.za/c26/Graad-1—3.aspx

Voorbeelde van Afrikaanse toesprake (Gratis)

http://www.storiewerf.co.za/kollig/re_voorbeeld.htm

http://sterredenaars.wix.com/ster-redenaars#!voorbeelde/cov2

Voorbeelde van Engelse toesprake (Gratis)

http://www.watsejyredenaars.com/#!voorbeelde/c24vq

Werkwinkels (Betaal)

http://www.redenaars.co.za/c5/Slypskole.aspx

Hulp met Afrigting

http://toespraakhulp.blogspot.com/2013/02/belangrike-raad-vir-jong-redenaars.html

Kyk toesprake op YouTube

Vir hulp om toesprake vir jou kind te bekom indien jy dit steeds nie self wil help skryf nie, kliek hier vir kontakbesonderhede https://fieliesdekock.com/2018/02/14/kontakte-vir-hulp-met-toesprake/

Voorbeelde van toesprake (Hierdie toesprake is spesiaal vir twee kinders geskryf, so moet dit asseblief nie gebruik nie.)

Voorbeeld 1 Met grysheid kom die wysheid

Voorsitter,

Daar is ‘n spreekwoord wat sê dat grysheid wysheid bring. Is dit so? Dit is soms so. Maar ook soms nié.

Dames en here / Seuns en meisies,

Eerstens is daar ‘n verskil tussen slim en wys. Slim is as ‘n mens baie leer. Jy kan nog baie jonk en baie slim wees. Soos Bill Gates van Microsoft wat dit regkry om die hele wêreld op rekenaars te laat werk. Hy is baie slim, maar ook wys, want hy sê kinders moet baie lees. Ek weet nie of hy dit gesê het toe hy al grys was nie.

Die wetenskaplike, Albert Einstein, was baie slim én baie wys. Hy het moeilike probleme opgelos en ontdek hoe dinge werk. Hy het ook gesê dat verbeelding belangriker as kennis is. Al was hy grys, dink ek nie hy was dan ooit ‘n grootmens nie, want grootmense sê soms anders.

(En), voorsitter, Dan is daar my ouma, Antjie. Sy is grys én slim én wys. Sy is so wys, sy is sommer een van ‘n tweeling. Ouma Antjie kan koek bak en stories vertel en grappies maak en einas regdokter en baie mooi prente verf.

Dames en here / Seuns en meisies,

Daar is altyd uitsonderings. Jesus was die wysste van almal en Hy het hemel toe gegaan vóórdat Hy grys was. En soms as kinders iets ouliks sê, dan sê die oumas:

“Is sy nie te grys nie?!”

So, ek is nie heeltemal seker dat alle wysheid met grysheid kom nie. Maar één ding weet ek! Dit rym!

Baie dankie, voorsitter

Voorbeeld 2 Een vrot appel steek al die ander aan

 Voorsitter,

Kan één ou klein appeltjie nou regtig ‘n hele boks vol appels vrot maak? Volgens die Bybel en baie slim mense, kan dit!

Dames en here, Appels en Pere / Seuns en meisies,

Op die webblad – todayifoundout.com – skryf Daven Hiskey dat ‘n slegte appel gewoonlik ‘n siekte het of dat dit oorryp is. Daardie één appel kan regtig al die ander appels om hom aansteek en vrot maak! Hy weet, want hy is ‘n baie slim man wat met met appels werk.

(Maar), voorsitter, Dié idioom praat nie rêrig van appels nie. Dit gaan eintlik oor slegte mense wat goeie mense leer om slegte dinge te doen. In 1 Korinthiërs 15 vers 33 in die Bybel staan: Slegte geselskap bederf goeie sedes. Die Bybel sal weet. Dis die slimste boek op aarde.

‘n Anonieme aanhaling sê dat ‘n mens se gesin jou eerste vriende is. Ons familie is die mense wat ons die liefste het. Hulle sal ons nie leer om slegte dinge te doen nie. So, as ons eerste vriende ons familielede is, sal ons nie vrot appels word nie!

Dames en here / Seuns en meisies,

Meneer George Washington was ‘n Amerikaanse president en nóg ‘n slim man. Hy het gesê dat dit beter is om alleen te wees as om slegte vriende te hê. Maar ek sê, kies van jongs af goeie vriende en jy hoef nooit alleen pret te hê nie! Is ek nie ook slim nie?

Baie dankie, voorsitter

© 2015 – I, Fielies (Riëtte) De Kock tries hard to be a Proverbs 31-woman – excellentest wife, finest mom, greatest lover and successful ‘wordpreneur’ all at the same time. I temporarily share my living space in Cairo, Egypt with my husband, young-adult son, the building’s ginger cat – and the space in my head with way too many ideas and multitudes of story characters to live as a normal functioning human being.

Vir hulp om toesprake vir jou kind te bekom indien jy dit steeds nie self wil help skryf nie, kliek hier vir kontakbesonderhede https://fieliesdekock.com/2018/02/14/kontakte-vir-hulp-met-toesprake/

29 thoughts on “Afrikaans: Leer om toesprake vir jou kinders te skryf – en leer hulle dan om dit self te doen

  1. […] Hier is ‘n voorbeeld van ‘n struktuur van ‘n redenaarstoespraak. […]

    Like

  2. Winnie Saayman says:

    hi is daar enige hulp beskikbaar of tutor wat kan help met afr opstelle graad 9…. ?

    Like

  3. […] Lees gerus ook my bloginskrywing oor die skryf van toesprake by https://fieliesdekock.com/2015/02/10/afrikaans-leer-om-toesprake-vir-jou-kind-te-skryf-en-leer-hulle… […]

    Like

  4. Jaco beylefeld says:

    Ons wil asb n mail adres he het dringend hulp nodig

    Like

  5. Jaco says:

    More
    Wil net hoor is daar dalk n mail adres waar mee on in kontak kan kom met jou het hul dringend nodig

    Like

  6. Amanda Britz says:

    Sjoe! Wens ek het dit 20 jaar terug geweet! Sal nuwe mammas na jou blog verwys! Wel gedaan!

    Like

  7. Amanda says:

    Ek is absoluut mal oor jou manier van dink en uitdruk op papier (wel skerm in hierdie geval).
    Ek is n baie hardwerkende; getroude -wat partykeer voel soos n enkelouer; uitgeputte ma van 2 wonderlike kinders en dit is weer tyd vir redenaars. Omdat ek gedaan is ontbreek die moed om regtig baie moeite in die projek te sit en met my navorsing kom ek op jou blog af en voel sommer weer geinspireerd.
    Baie dankie vir jou wyse woorde en hulp om my kinders (8 en 10) weer te leer om net vir hulle self te dink.
    Ander opsies is altyd so maklik bekombaar maar waar los dit my kinders, ek kies eerder om hulle ook te inspireer.
    Amanda van SA

    Like

  8. christine says:

    Dankie

    Like

  9. elna kunz says:

    Baie dankie.ek help van tyd tot tyd kinders met hul praatjies.dis lekker om vir hulle ook inligting te gee wat hul kan gebruik terwyl ek hul lei in hul toespraak

    Like

    • Elna, as jy wil kan jy vir my kontakbesonderhede post, en dan sit ek dit by die blog in. Mense soek altyd na mense soos jy. Groete. 🙂

      Like

    • louise says:

      hi elna, sal dit waardeer as jy vir my jou kontakbesonderhede sal email pls…. ek’t ‘n kleinseun wat baie slim is maar glo hy kan nie toesprake voordra nie… sooooo sal jou hulp baie waardeer asseblief

      Like

  10. Theresa says:

    Baie dankie vir die riglyne, gaan beslis help. Ook baie dankie aand die preke. ek gaan definitief my antwoorde aan my kinders verander, en hulle rede gee vir my antwoorde, en hul verbeelding gee. jy is awesome.

    Like

  11. kallie says:

    Het iemand asseblief vir my n voorbeeld van n toespraak met die onderwerp ‘Klik”.Dankie.

    Like

  12. amanda says:

    Kan julle my help met ‘n redenaars praatjie of bronne oor spieel, klik of krap? ek sukkel retig die jaar.

    Like

  13. Nina says:

    Baie dankie, dis maar ‘n gesukkel met ‘n slim lui kind.

    Like

  14. Zelda says:

    Goeiemore kan u my dalk help my seuntjie sukkel.verskriklik met engels hy in graad 4
    Hy nie baie lief vir lees nie en moet n opstel skryf bv maar aiii as mamma nie kan uitmaak.wat hy skryf nie daar is so baie foute hoe.gaan juffrou weet wat daar staan
    Asb enige raad of plek waar ek kan kyk vir oefeninge wat hy kan doen?

    Like

  15. Tjaart says:

    Dankie. sal verseker jou riglyne gebruik. Dis duidelik.

    Like

Leave a comment